My 40 jaar Matriek reünie

Ek was maar ‘n ‘loner’ op skool.

Ek kon nie rugby speel nie, want ek was hopeloos te maer. Ek het nie ‘n ‘girl’ gehad nie. Ek was te bang om iemand te vra om my ‘girl’ te wees. Ek was nie hoofseun of prefek nie. Kon nie eers biblioteekprefek maak nie. Ek was hopeloos met atletiek. Ons was verplig om aan ‘n item deel te neem. Ek het altyd aan verspring deelneem want dit was vinnig klaar. Nooit deurgekom na die volgende rondtes toe nie. Ek kon darem so bietjie hokkie speel met my maer lyf. Maar ek het nooit regtig uitgestaan nie. Ek vind dit eers jare later uit, maar blykbaar het hulle die ‘bright’ kinders in die A of B klasse gesit, en hom so teruggewerk.

Ek staan heel agter. 7de van regs af! Langs Kleynhans

Ek was in 10E.

Daar was nie ‘n 10F klas nie.

Maar ek was intens. Ek het alles om my ervaar in ‘intense mode’. Of soos die sielkundige eendag vir my ma gesê het: ‘Jou seun het ‘n Churchill profiel’. Hy is baie ‘fynbesnaard’ en ‘delikaat’. Hy gaan lank vat om op spoed te kom. Maar gee hom kans. As hy eers op spoed kom dan gaan julle sukkel om hom te stop. Ek dink baie keer dis die grashalmpie waaraan my ma vasgehou het. Haar seun is ‘n klein Churchill. Want die shrink sê so. Maar sy het lank gewag vir Churchill om deur te kom. Tot vandag toe sukkel Churchill om sy merk te maak.

Hoe my jonger sussie my onthou as kind …. vasgevang in my eie wêreld

So skool was eintlik vir my glad nie baie lekker nie. Ek het nie regtig uitgeblink in akademie of sport of enigiets nie. Ek was op geen komitee nie. Ek was maar net daar. En sosiaal het ek ook maar gesukkel. So ‘n paar pelle gehad. Maar ek het eerder in my eie wêreldtjie gelewe. In my eie gedagtewêreld en droomwêreld oor hoe dinge kon wees. Baie pouses op my eie gesit en my Marmite broodjie geëet in my droomwêreld terwyl almal om my rondhardloop en hulle ding doen.

Ek dink dit is miskien die rede hoekom ek nooit ‘n skoolreünie bygewoon het nie. Ek het nie goeie ‘memories’ van skool nie. Ek was onlangs in Windhoek toe ry ek na my ou skool toe. Net om te gaan kyk na die plek. Hoe dit nou lyk. En ek kan onthou hoe ek alleen in die kar sit en ‘n traan uit my oog vee. Want ek herken die plek waar ek pouses my Marmite broodjie alleen geëet het. En waar ek en Luandré Botha een middag na skool in ‘n ‘fight’ was agter die fietsloods. Juffrou Du Toit moes ons uitmekaar kom haal. En die grondpaadjie wat ek elke middag teruggestap het huis toe – Brühnstraat 27. Met my groot skooltas. Elke dag van my eentonige skoolloopbaan.

Dit was eers baie jare later dat so bietjie van Churchill begin inskop het. Ek het maar lank gevat om uit die blokke uit te kom. En een van die dinge wat ek oor die jare geleer het, is dat wanneer jy fokus op die dinge wat werk, dan is dit asof die dinge wat nie werk nie, minder word . Gaan google dit – appreciative inquiry. Dit is die teenoorgestelde van probleemoplossing. So in plaas daarvan dat jy fokus op dit wat nie werk nie, en probeer om dit te ‘fix’, vra jy eerder die vraag: ‘Maar wat werk…?’. En selfs al is dit wat werk net 5%, spandeer jy eerder jou tyd en energie om die 5% op te skuif na 6% en 7%. Eerder as om jou energie te spandeer om dit wat nie werk nie te probeer ‘fix’…

Ek wens ek kon dit besef toe ek op skool was. Maar ek was so vasgevang in dinge wat nie werk nie, dat ek eerder ontsnap het na my eie droomwêreld. Want ek kon dit nie ‘fix ‘ nie. Ek het nie die ‘software’ gehad om dit te ‘fix’ nie.

En daar was baie dinge in my skoolloopbaan wat gewerk het. Wat absolute ‘magic’ was :

  • My eerste ‘crush’ was Lientjie van Tonder. Sy het dit nooit geweet nie. Maar ek het eendag genoeg ‘guts’ bymekaar gekry om haar te vra vir ‘n ‘date’. Toe sê sy ja! En toe weet ek nie wat ons gaan doen nie, want ek het nie verwag dat sy gaan ja sê nie. Toe gaan haal ek en ‘n paar pelle haar een oggend met ons fietse en honde en sy sit voor op die fiets se ‘handles’ en ons ry Van Rhyndam toe en gooi kleilat en swem en braai wors. Dit was ons eerste en enigste ‘date’. Maar dit was ongelooflik.
Lampies saam met my heel eerste ‘crush’ – Lientjie
  • Die dag toe Ilse Havemann ja gesê het toe ek haar vra vir die Matriekafskeid. Sy was altyd vir my pragtig, maar daardie dag was sy besonders pragtig. En dat iemand saam met my wil Matriekafskeid toe gaan was net ‘amazing’.
Ek en Ilse Havemann op ons Matriekafskeid! Check my grys skoene en die strikdas
  • Die dag toe ons hokkiespan vir Centaurus – die kampioene – wen. Ek was regterskakel. Daardie dag het geen bal by my verbygekom nie. Die planete het net belyn. Monty Gadd was kaptein. Ons foto was in die koerant. Een van die min kere wat ek die koerant gemaak het. Ons goalie het ‘n behoorlike paar ore gehad. Toe word sy bynaam H2O – staan vir ‘helse twee ore’…
  • Hoe ek in my verbeeldingswêreld die ongelooflike skoonheid van die skoner geslag kon raaksien en droom oor hulle sonder om ooit met hulle daaroor te praat: Suzette Henn se dimpels; Jackie se massiewe groot bruin oë; Lientjie se bene; Gizlé se blou oë; Irna se glimlag; Pieré se kuite; en dan nog baie ander. Die skoner geslag was net vir my iets ongeloofliks. Hulle was almal pragtig vir my.
My crush Jackie (kyk net daai bruin oë) saam met Luandré Botha
  • Ek kon die skerpes en die slimmes om my raaksien en waardeer. Riaan Burger. Margaret Liebenberg. Sheila Heymans. Deidre de Waal. En nog baie ander. Mense wat net tonne meer breinselle gekry het as ek.
  • Ek onthou hoe ek met my maer lyf een middag gaan krieket speel en die krieketbal teen die spoed van lig rakelings by my kop verbysnel (sonder helmet) terwyl ek probeer kolf en ek die een bal na die ander misslaan. En almal vir my lag. En Dirk Coertzen vir hulle skel en my moed inpraat. Totdat ek die bal kon raakslaan.
  • Ek onthou hoe ek en Monty Gadd so tennis speel dat ons tonge uithang. Die een ‘toernooi’ op die ander. Sonder ophou. En hoe ons in sy pienk Citroen deur die hele Windhoek gery het. En by elke robot het hy die Citroen se gat gelig en gesak. Soos net ‘n Citroen kan.
  • Ek onthou hoe ek en Coen van Niekerk wat net so paar huise van my af gebly het, oorlog gemaak het met plastiek oorlogmannetjies en modelvliegtuie gebou het vir ure aaneen. En hoe ek en Coen eenkeer besluit het om skool te bank. Toe vind sy ma uit, en sy gaan vertel sy dit vir Mnr Du Plooy. My boude was blou vir 2 weke.
  • Ek onthou hoe ons eenkeer op ‘n veldskool was. Ons slaap toe iewers in die Namibwoestyn. En die aand om die vuur toe bid die meneer vir ons. En Dirk Prinsloo was saam met ons. Hy was so verskriklik bang vir insekte. En in die middel van die gebed toe skree Dirk kliphard: “Julle! Oppas!! Hier is ‘n haarskeerder!!!”. Die meneer het nooit sy gebed klaar gemaak nie. Hy het nie geweet waar om weer die toue op te tel nie.
  • Ek onthou hoe ek en Gerhard (Tarka) du Plessis gaan berg klim het op Saterdae. Dan stap ons vroeg die oggend en kom eers laatmiddag terug. Met ons honde en ketties. En onsself kon besig hou die hele dag in die veld met die eenvoudigste dinge en dit net kon geniet. Eenkeer afgekom op bier wat die Wambo’s maak so in die grond met koring of iets. Daar was niemand nie. Toe pie ons in die bier. Ek weet nie of die Wambos meer of minder van die bier toe gehou het nie. Of die keer toe ons op aandag moes staan vir kadette. Toe voel ek my neus jeuk verskriklik. Ek besluit toe ek gaan vinnig my neus krap sonder dat iemand agterkom. Toe pluk ek ‘n stuk snot uit my neus uit van amper oor die twee meter. En ek staan op aandag met die snot wat hang hier teen my hand af. En toe probeer ek die snot afskiet met my vinger sonder dat iemand agterkom. Toe kry ek dit reg. Maar die snot het toe so deur die lug geslinger en teen Tarka se kaal been vasgeskiet. En hy kon niks doen nie, want hy moes op aandag staan. So met die snot saam afgedril van die paradegrond af. Tarka was maar ‘n bleek outjie. Toe word sy bynaam Bloedverlies. Wens ek kan hom opspoor waar hy nou is.
  • Ek onthou hoe Antoni van der Smit by my kom kuier en ons die songs “Does your mother know” van ABBA en “Juke Box Hero” van Foreigner so kliphard op ons ou platespeler speel sodat die ou Duitse tannie van oorkant die straat ons moet kom stilmaak.
  • Ek onthou ons geskiedenisjuffrou. Juffrou Loubser dink ek was haar naam. Maar sy was pragtig en sy het die vak geskiedenis ingekleur vir my. Ek het haar klasse ge-love. En een vakansie toe kry ek haar in Henties. En toe gaan swem ons saam. En toe slaan ‘n brander haar. En sy verloor haar bikini se top. En ek het die voorreg gehad om na die twee mooiste ‘boobs’ te kon kyk. Vir net ‘n paar sekondes. Ongelooflik.
  • En ek dink ons was nog op skool of miskien net uit skool uit toe ek vir Sheila leer kar bestuur het in my 1400 Nissan bakkie by Solitude buite Henties saam met Margaret. Twee van die slimste mense wat ek ken saam met my in my bakkie. Amazing.
  • Ek het ‘memories’ van hoe ek saam met Andre Nieuwoudt (Annies) en baie ander visgevang het in Henties. Met sy pa oom Piet se ou Ford bakkie het ons op plekke uitgekom waar min 4×4’s vandag sou kon ry. En ons kon visvang.

Dink so daaraan:

“Darkness is not the opposite of light. It is the absence of light” – St. Augustine of Hippo (354 – 430 AD).”

As jy ‘n kers aansteek in ‘n donker vertrek, dan sien jy die lig. Maar jy kan nie die teenoorgestelde doen met donker nie. Jy kan nie donkerte in ‘n vertrek inbring waar daar lig is nie. Lig verdryf donkerte. Altyd. Donkerte kan nie lig verdryf nie. Het nog nooit nie. Sal ook nooit nie.

En daar was baie ‘kerse’ in my skoolloopbaan.

En daarom gaan ek hierdie jaar na ons 40ste skoolreünie toe in Goanikontes.

Vir die eerste keer.

Om dankie te sê vir al die ‘kerse’…

As ons dit weer gaan doen oor 10 jaar is ek amper 70. As ek dit maak, met die Genade saam!

So ek kom sê net dankie.

Vir al die ‘kerse’

“When you focus on what works, what does not work seems to disappear …’

Mamma

My liefste ma

Toe die dokter jou oopsny en jy vir my ‘n WhatsApp stuur op 3 Maart 2022 met die woorde: “Jan hulle het toegemaak. Dis te ver…”

Toe ek vir jou kom kuier in Mosselbaai in die hospitaal, en jy swart bloed opgooi onophoudend in jou geel emmertjie….

Toe hulle jou maag moes oopsny omdat die kanker jou derms toedruk….

Toe jy by die huis lê en jou wond septies word en die water uitspuit deur jou wond…

Toe ons jou nie op chemo kon sit nie, want jou wond is steeds oop…

Toe die kanker aan jou vreet dat jy net vel en been is…

Toe ek langs jou bed soos ‘n klein seuntjie sit en huil…

Toe sien ek dit raak:

Hoe jy die pad stap – elke dag

Hoe jy die dood elke dag in die gesig staar sonder vrees – amper nonchalant

Hoe jy nie een oomblik kerm of kla nie

Hoe jy my vertroos, waar ek veronderstel is om jou te vertroos

Hoe jy belangstel in ons wel en weë te midde van jou eie toestand

Hoe jy my herinner dat jy net in ‘n oorgang is na ‘n wêreld waarvan ons eintlik maar baie min van verstaan

Hoe jy vir my bid – jy vanuit jou dal van doodskaduwee

Toe weet ek:

Met trots

en met styl

en sonder enige vrees of angs

met tonne liefde

en emmers vol vrede

Stap jy elke dag die pad

En as ek hom eendag self moet stap,

dan sal ek hom wil stap presies soos jy hom stap…

Die “gentle” storie

You cannot solve it – you can only balance it…

Een van die konsepte wat baie laat eers in my lewe ingekom het, is polariteite. Ja – dis ‘n verskriklike groot woord. Ek sukkel selfs om dit te spel. Maar dit het baie dinge in my ou nietige lewetjie verander.

Toe ek dit die eerste keer raakloop, was dit op ‘n kursus in Johannesburg. Die fasiliteerder vertel ons toe van “the Tyranny of the OR, and the Genius of the AND”. “The Tyranny of the OR” beteken dat jy na sekere dinge in die lewe kyk met ‘n dualistiese denkraam. Die antwoord is of A of B. Maar nie altwee nie. Dit werk vir sekere dinge. Jou potlood val van die tafel af. Die oplossing is eenvoudig – tel dit op! “Problem solved”…

Maar sekere ding in die lewe is nie so eenvoudig nie. Wat maak jy as die oplossing A en B is…? Vat iets so eenvoudig soos asemhaling? Moet jy inasem (A) of uitasem (B)? Jy gaan altwee moet doen. En jy gaan dit perfek moet doen. Want as jy meer inasem as uitasem, of meer uitasem as inasem, dan het jy probleme..

En deur altwee te doen gaan jy nooit die probleem van asemhaling kan oplos nie. Dit is nie oplosbaar nie. Jy gaan vIr die res van jou lewe moet asemhaal. Of jy nou wil of nie. Anders gaan jy vrek. Dit is “the genius of the AND” – wanneer jy die dag besef dat altwee reg is – beide inasem en uitasem. Wanneer jy die dag besef dat daar sekere dinge is in die lewe wat jy doodeenvoudig nie kan oplos nie.

Jy kan dit net balanseer.

Inasem en uitasem.

Nie te dink inasem is die antwoord of uitasem is die antwoord nie. Want dan is jy weer vasgevang in die ‘tyranny of the OR”.

En met hierdie nuwe bewustheid van my het ek al hoe meer polariteite begin raaksien wat ons eerder moet balanseer (“genius of the AND”) as om te probeer oplos (“tyranny of the OR”). Dis mos maar altyd so. As jy ‘n nuwe kar koop dan sien jy skielik daardie karre op die pad. Dit was altyd daar, maar jy is nou net bewus daarvan. Ek lig ‘n paar uit:

  • “ego vs vulnerability” – Ek sien te veel mense wat heeltemal oorgedonder het aan die “ego”-skaal en glad nie bewus is dat hulle dit moet balanseer met “vulnerability” nie. Dis amper soos die keiser wat nie weet hy is kaalgat nie. Hulle is vasgevang in die aaklige web van “the tyranny of the OR” . Glo as hulle die vuilste grap kan vertel, of die grootste tjor ry, of die grootste wynkelder het, of die meeste geld, dan is hulle die wenner. Min verstaan hulle dat hulle moet inasem ook (“vulnerability”). Hulle is besig om te versmoor in hulle eie ego – die arme bliksems!
  • “performance vs representation” – wanneer “drop” die “penny” by ons regering, sport en munisipaliteite dat wanneer ons net “representation” nastreef sonder om dit te balanseer met “performance” dat ons dan gaan agteruit boer…? Watter “tyranny of the OR” waarin hulle hulself bevind. Hier sit ons vandag met hoeveel munisipaliteite wat pragtig verteenwoordigend is van die nuwe RSA maar heeltemal bankrot? Hulle besef nie hulle moet uitasem ook nie…
  • “doing vs being” – ons het vergeet dat ons eintlik “human beings” is en nie “human doings nie”. Ons koppel so ons identiteit aan wat ons doen, en ons status en ons posisie, en nie wie ons regtig is nie. Kyk na ‘n boom. Hy is net – hy doen nie iets nie. Hy verstaan baie beter van “being” as ons arme siele… Hierdie maak ‘n hele nuwe “topic” oor, maar gaan dink bietjie mooi oor die volgende vraag: “Wie is jy..?” Net dit. Nie wat jy doen nie, of waar jy bly nie, of wat jou naam is nie. Nee. “Wie is jy…?”. Jy sal dan agterkom dat die antwoord baie meer te doen het met “being” as met “doing”…Leer om asem te haal…
  • “giving vs receiving’ – jy kan nie net die hele tyd gee nie, en jy kan ook nie net die hele tyd ontvang nie. Ek sien elke dag van my lewe mense wat vasgeval is in hierdie “tyranny”. Of hulle is leeggegee en probeer nog die laaste druppeltje uittap, of hulle het hulle hele lewe lank net ontvang en nou skielik is daardie kraantjie droog. Nou is is hulle kwaad vir alles en almal. Jy moet altwee…anders gaan jy versmoor! Die koppie moet eers hê voor hy kan oorloop…Leer om asem te haal

Maar dan kom daar soms ‘n polariteit oor ‘n mens se lewe wat jou tussen jou oë slaan. Hard. Ek is mal oor Lewis. Ek dink hy was een van die beste breins op hierdie planeet. Hy stel dit so:

“Aslan is a lion – the Lion, the great Lion” “Ooh” said Susan.”I’d thought he was a man. Is he – quite safe? I shall feel rather nervous about meeting a lion”…

“Safe?” said Mr Beaver…”Who said anything about safe?” ‘Course he isn’t safe. But he is good. He is the King, I tell you…

C.S. Lewis. The Lion, the Witch and the Wardrobe (Chronicles of Narna, #1)

Nie “safe” nie – maar goed.

Inasem …..en dan uitasem……

Altwee……nie A of B nie…

The genius of the AND….

Boeta se les:

Yanik – ek wens dat jy eendag hierdie polariteit baie goed sal verstaan. Die ergste ding wat ooit met jou kan gebeur is wanneer die mense eendag op jou grafsteen skryf: “Hier lê ‘n pa, ‘n man en ‘n kerkganger – regtig ‘n baie nice ou…”

Want “nice” beteken nie noodwendig ruggraat nie. Dit sê niks van ‘n bereidheid om vyande te maak omdat jy bereid was om op te staan vir wat reg is nie. Dit sê eerder dat ander mense se aanvaarding belangriker vir jou was as om die alleenpad van geregtigheid te stap.

Dat “nice” belangriker was vir jou as “truth”…

Onthou altyd dat die DNA van jou Hemelse Pa (die Leeu) in jou is. Hy is nie “safe” nie, maar Hy is goed. Dieselfde DNA wat Dawid daai 5 klippies laat optel het teen Goliat. Gaan lees maar 1 Samuel 17 v 26. Dieselfde DNA as in Elia (1 Konings 18 vs 20-40) wat die Baālprofete in die openbaar verneder het. Dieselfde DNA wat Paulus sy stem laat verhef het in die publiek teen die leiers van Athene (Handelinge 17 vs 16).

Hierdie ouens was nie “nice” nie….

Hulle was nie “safe” nie, maar hulle was goed…

“Expect gentleness from the strong. Cruelty can only come from the weak”.

Wees “gentle”, maar moet asseblief nooit “safe” wees nie…

Want jou Pa verwag dit van jou.

Lief vir jou

Pappa

Die Kola Storie

Ek het vir Kola van Staden ontmoet in 1995 toe ek my internskap by MPI (Militêre Psigologiese Instituut) gedoen het. In Gezina daar in Pretoria-Noord.  Hy het ook sy internskap daar gedoen, en ons vriendskap het daardie jaar begin.

Ek het van Kola gehou van dag een af. En ek kon in my jonger jare nooit my vinger daarop sit oor hoekom ek so mal oor ou Kola was nie. Hy was een van my beste vriende. Nou met die grysheid kom die wysheid. As ek so terugdink aan hom, dan weet ek hoekom ek so mal was oor hom. Twee redes. Kola het my waardeer soos ek was – “warts & all” . Nie een oomblik kan ek onthou dat hy iets in my wou verander nie. Nie een oomblik het hy met my probeer kompeteer nie. Nie een oomblik het hy probeer om my te gebruik vir wat hy wil bereik nie. Nie een oomblik het hy probeer om te beïndruk nie. Nooit het hy afgekyk op my nie. Kola was net Kola. En ek was net ek. En dit was reg so.

Die tweede rede hoekom ek so mal oor Kola was, was omdat hy ongelooflike “fun” was. Humor en lag was hoog op die agenda wanneer Kola saam met my was. Ons het soveel dinge saam gedoen. Ons was stout, maar gelukkig nooit lelik stout nie. Ek onthou hoe ek en Kola en ‘n ander vriend van ons, Conrad, eenkeer van Johannesburg af deur is Potchefstroom toe vir die aand. Connie het ‘n “girl” gehad wat daardie tyd vir RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) se pluimbalspan teen Potchefstroom gaan speel het. Ek en Kola is saam met Connie die aand Potch toe – ek en Kola om te gaan “kuier” en die plek uit te kyk  en Connie om vir sy meisie te kuier.

DSC04131
Kola links, Piet regs

Kola was op sy stukke daardie aand. Hy het uit volle bors vir wildvreemde meisies kliphard sonder enige  vrees gesing: ” Met jou in my lewe, kan ek soveel vermag. Dis die aand van die Oujaar wat ek toe geweet het, dat ek vir jou sal wag….”

Ja – Andre Schwartz se song. Ek verklap my ouderdom…

Dit het nie juis ‘n indruk op die meisies gemaak nie, maar vir ons was dit nogal snaaks. Veral om die verbasing op hulle gesigte te sien. En hoe hulle vinnig wegtrippel as hy lostrek.

Conrad se pluimbalmeisie het ‘n vriendin gehad wat hulle toe later die aand aan my voorstel. Ek kon nog nooit baie drink nie. Lippe word dood na die derde bier. Dan praat ek so bietjie snaaks. Ek is eintlik heel nugter, dis net die lippie was so bietjie hang.  My vriende ken my so. En toe dit later die aand word, toe word die meisie vir my al hoe mooier en ek trek los en gee haar ‘n soen. Tot my verbasing soen sy my toe terug. En net toe ek dink dinge loop nou mooi, toe spring sy op en hardloop weg.  En toe proe ek bloed. Ja – ek het die meisie se lip stukkend gebyt want my lippie was so bietjie dood.

DSC04126
Kola my Kola…

Raar maar waar.

Sy was ook in RAU se pluimbalspan en moes die volgende oggend blykbaar met ‘n dik lip teen Potch se pluimbalspan uitdraf. As daardie meisie ooit hierdie storie lees (“ek kan nie haar naam onthou nie”) , ek is baie jammer dat ek jou lip raakgebyt het. Ek het dit nie so bedoel nie.  Ek moes dit vir jou voor die tyd gesê het dat my ou lippie so bietjie dood is. Maar Kola het daardie aand oopgeloop met sy “met jou in my lewe-song” en ek het die fout gemaak om by hom te probeer hou.

Kola was sports. Maak nie saak wat ons gedoen het nie, hy het enige situasie verander in pret. My vaal ou lewetjie ingekleur. As ons op die gholfbaan was, dan het jy gekrul van die lag vir hom. As ons in die Spur was, dan het Kola net moeilikheid gemaak waar hy kom. Dit was ongelooflike “fun” om saam met Kola uit te hang.

007
Kola

En hy het ‘n diep kant aan hom gehad. Ek onthou vele aande in Johannesburg. Ons het tot vroegoggend rooiwyn gedrink, musiek geluister en gefilosofeer oor die lewe. Dan het hy sy hart oopgemaak oor sy lewe en sy pyn. En sy malligheid was ook maar net ‘n manier om sy seer weg te steek.

Een oggend was ek en hy by ‘n mannegroep – 06h00 op ‘n Saterdagoggend. En toe die groepie bid, toe trek hy eerste los met: “Genade – genade onbeskryflik groot….”. So asof hy met sy Pa praat.

Ek het amper van my stoel afgeval. Kola het verstaan van genade.

Ek was baie lief vir Kola.

file-13
Kola soos ek hom onthou….mal soos ‘n haas

En toe op ‘n dag toe sien ek dit gaan nie goed met Kola nie. Dinge het blykbaar nie so lekker geloop by sy huis nie.

Ek kon sien ou Kola trek erge “amps”.  Ek het hom die Donderdag nog gesien by GIBS (Gordon Institute for Business Science). Hy het net so voor hom uitgestaar. Ek het vir hom gevra om asseblief dit net rustig te vat. Om nie nou alleen te wees nie. Hy het nou ons nodig. Hy het na my gekyk, geglimlag en gesê: ” Ek is OK, tjom!”

Maar hy was op ‘n ander plek.

Daardie Maandag het ek ‘n oproep gekry van Pieter, sy kollega.

Kola is dood.

Hy het homself opgehang.

Die bediende het hom die Maandagoggend gekry. Yskoud.

Iewers tussen die Donderdag en die Maandag het dinge net te veel geword vir Kola.

En ons was nie daar om hom te help nie.

Ek sou so graag in Kola se pikswart spasie saam met hom wou sit voor hy homself gehang het, en vir hom gefluister het: “Kola – moenie dit doen nie. Jy is nie alleen nie ou maat. Ons is hier vir jou. Ons sal deur hierdie ding kom. Ons sal jou help, ou tjom!”

kobus i phone 11 073
Met jou in my lewe kan ek soveel vermag…

Maar dit was te laat. Die donker het te veel geword vir Kola. Agter sy lag en sy malligheid en sy menswees was daar net te veel pyn.

Boeta se les

Yanik – Daar is drie goed wat ek geleer het by Kola:

Eerstens – aanvaar mense net soos hulle is. Wees vir hulle lief net soos hulle is. “Warts & all”. Moenie hulle oordeel nie. Moenie hulle probeer beïndruk nie. Moet asseblief nooit  afkyk op hulle nie. Leo Buscaglia stel dit so:” I am an apple, and you are a pear. And it is very difficult for an apple to become a pear. So I am not even going to try.”

Moenie van appels pere probeer maak nie.

En as jy ‘n vriend ontmoet wat jou toelaat om ten volle ‘n appel te kan word, besef dat jy olie raak geboor het. Daardie vriende is so skaars soos hoendertande. Hou vas aan hulle en spandeer jou tyd saam met hulle. Hulle verstaan. Soos Kola.

Tweedens – “When you are bored you are most probably boring as hell too”.

Wees “fun”. Maak grappe. Lag.

Moenie swaar deur die lewe gaan nie. Daar is genoeg smartvrate daar buite. Daar is te min mense op die speelveld en te veel toeskouers wat kritiseer. Wees iemand wat die lekker en die lag en die “fun” kan inbring in enige dooie omgewing.  Veral in Suid-Afrika. Ons is nie gemaak om heeldag te tob nie. Ons is gemaak om die lewe in al sy volheid te geniet. Doen dit. Moenie terughou nie.

Geniet die lewe! Sing vir mense uit volle bors uit, sonder om bang te wees vir hulle reaksie.

Maar moenie hulle lippe stukkend byt nie. Dis jou pa se area daardie.

Dans in die reën. Soos Kola.

Derdens – Wanneer dit pikswart om jou word en jy op moedverloor se vlakte sit – onthou om jou hand op te steek. Jy is nooit alleen nie.  Selfs al voel dit vir jou so. Dit is ‘n leuen. As daar niemand by jou is in jou pikdonker nie, dan is God daar. Maar daar is altyd ook vriende wat by jou sal kom sit en uit hulle pad uit sal gaan om jou te help.

As jy net jou hand sal opsteek. Ek sou daar gewees het vir Kola.

Maar hy het nie sy hand opgesteek nie.

Wees lief vir die appels. Wees mal sonder om lippe raak te byt. En steek jou hand op.

Lief vir jou

Pappa