Ek was maar ‘n ‘loner’ op skool.
Ek kon nie rugby speel nie, want ek was hopeloos te maer. Ek het nie ‘n ‘girl’ gehad nie. Ek was te bang om iemand te vra om my ‘girl’ te wees. Ek was nie hoofseun of prefek nie. Kon nie eers biblioteekprefek maak nie. Ek was hopeloos met atletiek. Ons was verplig om aan ‘n item deel te neem. Ek het altyd aan verspring deelneem want dit was vinnig klaar. Nooit deurgekom na die volgende rondtes toe nie. Ek kon darem so bietjie hokkie speel met my maer lyf. Maar ek het nooit regtig uitgestaan nie. Ek vind dit eers jare later uit, maar blykbaar het hulle die ‘bright’ kinders in die A of B klasse gesit, en hom so teruggewerk.


Ek was in 10E.
Daar was nie ‘n 10F klas nie.
Maar ek was intens. Ek het alles om my ervaar in ‘intense mode’. Of soos die sielkundige eendag vir my ma gesê het: ‘Jou seun het ‘n Churchill profiel’. Hy is baie ‘fynbesnaard’ en ‘delikaat’. Hy gaan lank vat om op spoed te kom. Maar gee hom kans. As hy eers op spoed kom dan gaan julle sukkel om hom te stop. Ek dink baie keer dis die grashalmpie waaraan my ma vasgehou het. Haar seun is ‘n klein Churchill. Want die shrink sê so. Maar sy het lank gewag vir Churchill om deur te kom. Tot vandag toe sukkel Churchill om sy merk te maak.

So skool was eintlik vir my glad nie baie lekker nie. Ek het nie regtig uitgeblink in akademie of sport of enigiets nie. Ek was op geen komitee nie. Ek was maar net daar. En sosiaal het ek ook maar gesukkel. So ‘n paar pelle gehad. Maar ek het eerder in my eie wêreldtjie gelewe. In my eie gedagtewêreld en droomwêreld oor hoe dinge kon wees. Baie pouses op my eie gesit en my Marmite broodjie geëet in my droomwêreld terwyl almal om my rondhardloop en hulle ding doen.
Ek dink dit is miskien die rede hoekom ek nooit ‘n skoolreünie bygewoon het nie. Ek het nie goeie ‘memories’ van skool nie. Ek was onlangs in Windhoek toe ry ek na my ou skool toe. Net om te gaan kyk na die plek. Hoe dit nou lyk. En ek kan onthou hoe ek alleen in die kar sit en ‘n traan uit my oog vee. Want ek herken die plek waar ek pouses my Marmite broodjie alleen geëet het. En waar ek en Luandré Botha een middag na skool in ‘n ‘fight’ was agter die fietsloods. Juffrou Du Toit moes ons uitmekaar kom haal. En die grondpaadjie wat ek elke middag teruggestap het huis toe – Brühnstraat 27. Met my groot skooltas. Elke dag van my eentonige skoolloopbaan.
Dit was eers baie jare later dat so bietjie van Churchill begin inskop het. Ek het maar lank gevat om uit die blokke uit te kom. En een van die dinge wat ek oor die jare geleer het, is dat wanneer jy fokus op die dinge wat werk, dan is dit asof die dinge wat nie werk nie, minder word . Gaan google dit – appreciative inquiry. Dit is die teenoorgestelde van probleemoplossing. So in plaas daarvan dat jy fokus op dit wat nie werk nie, en probeer om dit te ‘fix’, vra jy eerder die vraag: ‘Maar wat werk…?’. En selfs al is dit wat werk net 5%, spandeer jy eerder jou tyd en energie om die 5% op te skuif na 6% en 7%. Eerder as om jou energie te spandeer om dit wat nie werk nie te probeer ‘fix’…
Ek wens ek kon dit besef toe ek op skool was. Maar ek was so vasgevang in dinge wat nie werk nie, dat ek eerder ontsnap het na my eie droomwêreld. Want ek kon dit nie ‘fix ‘ nie. Ek het nie die ‘software’ gehad om dit te ‘fix’ nie.
En daar was baie dinge in my skoolloopbaan wat gewerk het. Wat absolute ‘magic’ was :
- My eerste ‘crush’ was Lientjie van Tonder. Sy het dit nooit geweet nie. Maar ek het eendag genoeg ‘guts’ bymekaar gekry om haar te vra vir ‘n ‘date’. Toe sê sy ja! En toe weet ek nie wat ons gaan doen nie, want ek het nie verwag dat sy gaan ja sê nie. Toe gaan haal ek en ‘n paar pelle haar een oggend met ons fietse en honde en sy sit voor op die fiets se ‘handles’ en ons ry Van Rhyndam toe en gooi kleilat en swem en braai wors. Dit was ons eerste en enigste ‘date’. Maar dit was ongelooflik.

- Die dag toe Ilse Havemann ja gesê het toe ek haar vra vir die Matriekafskeid. Sy was altyd vir my pragtig, maar daardie dag was sy besonders pragtig. En dat iemand saam met my wil Matriekafskeid toe gaan was net ‘amazing’.

- Die dag toe ons hokkiespan vir Centaurus – die kampioene – wen. Ek was regterskakel. Daardie dag het geen bal by my verbygekom nie. Die planete het net belyn. Monty Gadd was kaptein. Ons foto was in die koerant. Een van die min kere wat ek die koerant gemaak het. Ons goalie het ‘n behoorlike paar ore gehad. Toe word sy bynaam H2O – staan vir ‘helse twee ore’…
- Hoe ek in my verbeeldingswêreld die ongelooflike skoonheid van die skoner geslag kon raaksien en droom oor hulle sonder om ooit met hulle daaroor te praat: Suzette Henn se dimpels; Jackie se massiewe groot bruin oë; Lientjie se bene; Gizlé se blou oë; Irna se glimlag; Pieré se kuite; en dan nog baie ander. Die skoner geslag was net vir my iets ongeloofliks. Hulle was almal pragtig vir my.

- Ek kon die skerpes en die slimmes om my raaksien en waardeer. Riaan Burger. Margaret Liebenberg. Sheila Heymans. Deidre de Waal. En nog baie ander. Mense wat net tonne meer breinselle gekry het as ek.
- Ek onthou hoe ek met my maer lyf een middag gaan krieket speel en die krieketbal teen die spoed van lig rakelings by my kop verbysnel (sonder helmet) terwyl ek probeer kolf en ek die een bal na die ander misslaan. En almal vir my lag. En Dirk Coertzen vir hulle skel en my moed inpraat. Totdat ek die bal kon raakslaan.
- Ek onthou hoe ek en Monty Gadd so tennis speel dat ons tonge uithang. Die een ‘toernooi’ op die ander. Sonder ophou. En hoe ons in sy pienk Citroen deur die hele Windhoek gery het. En by elke robot het hy die Citroen se gat gelig en gesak. Soos net ‘n Citroen kan.
- Ek onthou hoe ek en Coen van Niekerk wat net so paar huise van my af gebly het, oorlog gemaak het met plastiek oorlogmannetjies en modelvliegtuie gebou het vir ure aaneen. En hoe ek en Coen eenkeer besluit het om skool te bank. Toe vind sy ma uit, en sy gaan vertel sy dit vir Mnr Du Plooy. My boude was blou vir 2 weke.
- Ek onthou hoe ons eenkeer op ‘n veldskool was. Ons slaap toe iewers in die Namibwoestyn. En die aand om die vuur toe bid die meneer vir ons. En Dirk Prinsloo was saam met ons. Hy was so verskriklik bang vir insekte. En in die middel van die gebed toe skree Dirk kliphard: “Julle! Oppas!! Hier is ‘n haarskeerder!!!”. Die meneer het nooit sy gebed klaar gemaak nie. Hy het nie geweet waar om weer die toue op te tel nie.
- Ek onthou hoe ek en Gerhard (Tarka) du Plessis gaan berg klim het op Saterdae. Dan stap ons vroeg die oggend en kom eers laatmiddag terug. Met ons honde en ketties. En onsself kon besig hou die hele dag in die veld met die eenvoudigste dinge en dit net kon geniet. Eenkeer afgekom op bier wat die Wambo’s maak so in die grond met koring of iets. Daar was niemand nie. Toe pie ons in die bier. Ek weet nie of die Wambos meer of minder van die bier toe gehou het nie. Of die keer toe ons op aandag moes staan vir kadette. Toe voel ek my neus jeuk verskriklik. Ek besluit toe ek gaan vinnig my neus krap sonder dat iemand agterkom. Toe pluk ek ‘n stuk snot uit my neus uit van amper oor die twee meter. En ek staan op aandag met die snot wat hang hier teen my hand af. En toe probeer ek die snot afskiet met my vinger sonder dat iemand agterkom. Toe kry ek dit reg. Maar die snot het toe so deur die lug geslinger en teen Tarka se kaal been vasgeskiet. En hy kon niks doen nie, want hy moes op aandag staan. So met die snot saam afgedril van die paradegrond af. Tarka was maar ‘n bleek outjie. Toe word sy bynaam Bloedverlies. Wens ek kan hom opspoor waar hy nou is.
- Ek onthou hoe Antoni van der Smit by my kom kuier en ons die songs “Does your mother know” van ABBA en “Juke Box Hero” van Foreigner so kliphard op ons ou platespeler speel sodat die ou Duitse tannie van oorkant die straat ons moet kom stilmaak.
- Ek onthou ons geskiedenisjuffrou. Juffrou Loubser dink ek was haar naam. Maar sy was pragtig en sy het die vak geskiedenis ingekleur vir my. Ek het haar klasse ge-love. En een vakansie toe kry ek haar in Henties. En toe gaan swem ons saam. En toe slaan ‘n brander haar. En sy verloor haar bikini se top. En ek het die voorreg gehad om na die twee mooiste ‘boobs’ te kon kyk. Vir net ‘n paar sekondes. Ongelooflik.
- En ek dink ons was nog op skool of miskien net uit skool uit toe ek vir Sheila leer kar bestuur het in my 1400 Nissan bakkie by Solitude buite Henties saam met Margaret. Twee van die slimste mense wat ek ken saam met my in my bakkie. Amazing.
- Ek het ‘memories’ van hoe ek saam met Andre Nieuwoudt (Annies) en baie ander visgevang het in Henties. Met sy pa oom Piet se ou Ford bakkie het ons op plekke uitgekom waar min 4×4’s vandag sou kon ry. En ons kon visvang.
Dink so daaraan:
“Darkness is not the opposite of light. It is the absence of light” – St. Augustine of Hippo (354 – 430 AD).”
As jy ‘n kers aansteek in ‘n donker vertrek, dan sien jy die lig. Maar jy kan nie die teenoorgestelde doen met donker nie. Jy kan nie donkerte in ‘n vertrek inbring waar daar lig is nie. Lig verdryf donkerte. Altyd. Donkerte kan nie lig verdryf nie. Het nog nooit nie. Sal ook nooit nie.
En daar was baie ‘kerse’ in my skoolloopbaan.
En daarom gaan ek hierdie jaar na ons 40ste skoolreünie toe in Goanikontes.
Vir die eerste keer.
Om dankie te sê vir al die ‘kerse’…
As ons dit weer gaan doen oor 10 jaar is ek amper 70. As ek dit maak, met die Genade saam!
So ek kom sê net dankie.
Vir al die ‘kerse’
“When you focus on what works, what does not work seems to disappear …’